Our Company
Jungle Gyms
Playground Equipment
Heavy Duty
Slides / Accessories
Prices & Ordering
Contact Us

About Us
Services
FAQ
Extra Information
Testimonials
Maintenance
Guarantee
Refurbishment
Articles
Related Services
Baby
Toddler
Kindergarden
Junior
Senior
Maxi
Super Maxi
Jumbo
Super Jumbo Collapsable Steel
Climbing Structures
Barrels
Tunnels
Balancing
Swings
See Saws
Rocking
Sport
Jungle Gyms
Slides
Slide Stands
See Saws
Swings
Steel Slides
Fibreglass Slides
Stands
Accessories
Price List
Rental Information
Specials
Delivery / Collection
Order Now!
Second Hand
Contact Details
Map to Factory

ONTWIKKELINGSGESKIKTE OPVOEDKUNDIGE APPARAAT VIR KLEUTERS 4 – 6 JAAR OUD.

Ontwikkelingsgeskikte opvoedkundige apparaat vir Kleuters 4 – 6 jaar oud.

Anders as die baba en peuter en die jonger kleuter se spel waarna ons in die eerste artikel gekyk het, word apparaat op baie verskillende maniere deur die 4-6 jarige gebruik. Wat veral opvallend van hierdie ouderdomsgroep is, is die toenemende sosiale ontwikkeling wat in hulle spel waargeneem word. Dit is veral in die 5 tot 6 jarige groep waar sosiale spel die hooftema van alle spel word. Omdat hierdie aspek so belangrik is, gaan ons ‘n bietjie tyd bestee om te kyk na die faktore wat tot suksesvolle sosio-emosionele ontwikkeling lei.

Daar is egter ook ‘n ander gelyklopende proses wat byna netso belangrik as die sosiale ontwikkeling is. Perseptuele ontwikkeling vind vanaf geboorte en in sommige gevalle selfs voor geboorte plaas. Dit is egter in die ouderdomme 4-6 jaar wat integrasie van die sintuie se inligting en verfyning van vaardighede plaasvind. Gallahue(1989) beweer dat kleuters in hierdie tyd oorskakel van die meer primitiewe taspersepsie na die meer gesofistikeerde visuele en later ook die ouditiewe sintuie. Hierdie sintuie is in staat om vinniger inligting te gee en ook die integrasie van inligting baie vinniger te maak.

Al die leerprosesse in hierdie fase tussen 4 en 6 jaar is ten nouste verbind met verbale uitbreiding. Kleuters in hierdie fase is besig om teen ‘n verbasende spoed nuwe woorde en begrippe aan te leer.

Indien ons dus nou vinnig kyk aan watter vereistes apparaat in hierdie fase moet voldoen, kan ons die volgende algemene gevolgtrekkings maak:

  • As apparaat aangekoop word moet daar voorkeur gegee word aan apparaat waarmee meer as een kleuter kan speel;

  • Daar moet ook apparaat aangekoop word wat geleentheid vir probleemoplossing in groepsverband bied. Ek dink hier veral aan groot boublokke met figure en diere om verbeeldingspel aan te moedig;

  • Apparaat wat kleuters help om ruimtelike persepsie te ontwikkel soos balle, klim en klouter en ander grootspierapparaat moet nie verwaarloos word nie;

  • Legkaarte wat aan kleuters uitdagings bied. Hier kyk ons na legkaarte wat tussen 36 en selfs 72 stukke het;

  • Apparaat wat analitiese en logiese denke bevorder;

  • Apparaat wat wiskundige probleemoplossing bevorder;

  • Boeke en ander apparaat wat lees-en skryfvaardighede op ‘n informele wyse aanmoedig;

  • Aktiwiteite wat verbeeldingspel bevorder.

Belangrikheid van sosiale ontwikkeling
Katz & McClellan (1997:vii) sê There is little of importance in our everyday lives that does not involve interaction with others. Most of the experiences people count as meaningful and significant – family life, work and most recreation – include or even depend on relations with others... Individuals can realize their potential only within a community.

Back to Top

Tradisioneel is daar in die verlede baie tyd in die voorskoolse program aan die ontwikkeling van sosiale vaardighede bestee. Die belangrikheid van hierdie klem word meer en meer beklemtoon deur onlangse navorsing. Dit is egter so dat onderwyseresse al hoe meer druk ervaar om meer tyd te bestee aan wat ons “akademiese” vakke kan noem, en al hoe minder tyd aan die ontwikkeling van sosiale vaardighede. ‘n Verdere faktor wat ‘n belangrike rol speel is die feit dat die ouerhuis se invloed ten opsogte van sosio-emosionele ontwikkeling minder word. Babas en peuters word vroeër in sorg geplaas en spandeer ook langer ure in die voldagsorg. Dit beteken dat die rol van die skool en die onderwyser in die kleuter se sosiale ontwikkeling al hoe belangriker word.

Die verband tussen emosionele insig en sosiale vaardighede is reeds in ‘n vorige artikel genoem. Ek haal weer aan uit Vygotsky (Berk & Winsler,1995:12) wat daarop wys dat denke en intelligensie hoegenaamd nie los te maak is van die sosiale en emosionele kultuur waarbinne die kind beweeg nie. Hierdie integrasie tussen kognitiewe ontwikkeling en die sosiale en emosionele omgewing waarbinne die kind beweeg beteken natuurlik nie dat daar nie universele faktore in kognitiewe ontwikkeling is wat vir alle kinders dieselfde is nie. Nogtans beteken hierdie verweefdheid tussen die verskillende aspekte van kleuters se ontwikkeling dat ‘n eenvormige toets soos ‘n skoolgereedheidstoets eintlik net die enkele universele aspekte betroubaar kan toets. Die ander, dikwels belangriker aspekte word heeltemal buite rekening gelaat. Aspekte soos emosionele geborgenheid wat ‘n belangrike uitwerking op die rasionele kognitiewe kan uitoefen, word dikwels heeltemal geïgnoreer.

In baie skole word juis aspekte wat kinders sogenaamd skoolgereed sal maak beklemtoon ten koste van belangrike vaardighede soos emosionele beheer, sosiale kennis en begrip en sosiale vaardighede, soos byvoorbeeld:

    Om beurte te neem en te weet hoe om suksesvol by ‘n groep aan te sluit


    Om in die groep saam te kan speel wat beteken dat kleuters die belangrike vaardighede van beurt afwag, toepaslike reaksies in ‘n groep en ook hoe om toepaslik verbaal te reageer, moet aanleer voordat hulle laerskool toe gaan. ‘n Belangrike vaardigheid wat hier genoem kan word is hoe om geweld op ‘n nie-gewelddadige wyse the hanteer.


Ons moet aanvaar dat kleuters hierdie vaardighede nie vanself aanleer nie. Die rol van die onderwyser om die omgewing te beplan en ook haar verbale bydrae te beplan is uiters belangrik. Wanneer kleuters byvoorbeeld die verband kan sien tussen oorsaak en gevolg, raak dit nie net moontlik om emosies te beheer nie maar ook om situasies wat kan lei tot negatiewe emosies betyds te ontlont. Die vermoë om die verband tussen oorsaak en gevolg te kan sien is ewe belangrik vir wiskundige en wetenskaplike insig.

Een van die belangrike aspekte wat hier ter sprake kom is om kinders te help om as vredemakers op te tree. Kinders wat insig het in hulle eie en ander se emosies en reaksies is meer geneig om nie gewelddadig of aggressief te reageer wanneer iemand iets sê of doen wat dalk as konfrontasie geïnterpreteer kan word nie. Mense wat nooit hierdie vaardighede aangeleer het nie is geneig om in enige situasie wat in hulle oë as vernederend, verkleinerend of uittartend waargeneem word, gewelddadig te reageer. This jump to judgement testifies to a deep perceptual bias in people who are unusually aggressive: they act on the basis of the assumption of hostility or threat, paying too little attention to what is actually going on.. (Golman, 1995:235). Weereens is die voorbeeld van die volwassene sowel as die verbale begeleiding wat plaasvind uiters belangrik. Te lank is gedink dat hierdie soort sosio-emosionele inhoud van die dagprogram verskuil is in die “verborge kurrikulum”. Kleuters was dan veronderstel om dit op ‘n terloopse wyse aan te leer. Vandag weet ons dat hierdie vaardighede te belangrik is om net aan terloopse leer oor te laat. Ons sal later meer aandag gee aan die spesifieke kenmerke van die verhoudings en die aard van die leeromgewing in die ontwikkeling van sosiale vaardighede.

Back to Top

Apparaat wat sosio-emosionele ontwikkeling bevorder.

Dit is nie soseer die apparaat wat die sleutel tot suksesvolle aanleer van sosiale vaardighede is nie. Dit is veral die rol wat die emosioneel-belangrike mense in die lewens van kleuters speel wat bepalend is. Katz & McClellan (1997:13-20) sê dat ‘n liefdevolle vehouding binne gesinsverband baie belangrik is. Hulle sê egter dat liefde alleen en dissipline alleen nie voldoende is nie. Dit is die kombinasie van liefde, verbale ondersteuning en dissipline wat sorg dat kleuters grootword as sosiaal goedaangepaste mense. ...Rather, a combination of nurturance and control, encouragement, demandingness and communication provides the emotional and social context required for optimum development (1997:13).

Indien ons hierdie uitspraak oor die soort van opvoedingstyl in die ouerhuis op die kleuterskool van toepassing sou maak, sou dit beteken dat die ideale kleuterskool ‘n plek sou wees waar daar goeie verhoudings bestaan, waar daar uitdagings aan kinders gestel word en waar daar reëls bestaan wat aan kleuters duidelike riglyne verskaf vir aanvaarbare gedrag. Warm, hartlike verhoudings gekombineer met kontrole sorg dat kleuters se gedrag ‘n balans is tussen onafhanklikheid en sosiale afhanklikheid. Die gebruik van apparaat moet dus hierdie twee aspekte ondersteun. Kleuters se spel bied ‘n unieke geleentheid om hulle bewus te maak van aanvaarbare gedrag en reëls wat in die speelkamer geld.

Ontwikkeling van perseptuele vaardighede

Daar is reeds genoem dat die tydperk tussen 4 en 6 jaar belangrik vir die integrasie van perseptuele inligting en die verfyning van hierdie vaardighede is. As ‘n voorbeeld kan oog-hand koördinasie genoem word. Hierdie vaardigheid begin wanneer die baba uitreik na voorwerpe. Verfynde, doeltreffende oog-hand koördinasie is egter die resultaat van ongeveer 5 jaar se ontwikkeling wat ‘n fyn samehang tussen grootspier- en fynspierbeheer, visuele vaardigheid en konsentrasie is. Kom ons kyk na die perseptuele aspekte wat in die tydperk 4-6 jaar verfyn word:

  • Luistervaardighede/Diskriminasie/ Ouditiewe geheue:

  • Apparaat/Aktiwiteite wat dit bevorder: Musiek, bandopnames, gebruik van instrumente, liedjies, gediggies, klem op foneme.

  • Visuele diskriminasie/perifiêre visie/om te volg/ooreenkomste en verskille

  • Apparaat/Aktiwiteit: Balspeletjies, Trap en vang, lotto, Vorm- en kleursortering, Syfer- en letterherkenning, slangetjies en leertjies.

  • Voorgrond/ agtergrond: Grootspieraktiwiteite, balspeletjies, legkaarte, oorsaak en gevolg kaarte, What’s in a square,

  • Grootspierontwikkeling /balans/basiese bewegings/ manipulering van voorwerpe:

  • Bewegingsaktiwiteite wat al hierdie aspekte kombineer in probleemoplossing.

  • Legkaarte: sintese/ geheelbeeld diskriminasie/visuele voltooiing

  • Kleinspierontwikkeling/manipulering: Knip, teken, verf, ryg, sorteer (pennetjiesbord)

  • Tyd en ruimtelike konsepte: Stories, verloop van roetines, wetenskapaktiwiteite, sandloper, temas van horlosies, vier van verjaardae ens.

Wiskunde

  • Getallebegrip
  • Een tot een verhoudings
  • Klassifikasie
  • Meer as / minder as
  • Woordsomme en die oplossing van wiskundige en ruimtelike probleme

Back to Top

Ontwikkeling en stimulering van verbeeldingspel

Verbeeldingspel is ongetwyfeld een van die mees onderskatte aktiwiteite in kinderspel. Verbeelding is volgens prof. Barbara Clarke (Montessori-kongres, 1985, WITS) een van die min aktiwiteite wat die totale breinkrag van die brein gebruik. Sonder verbeelding is probleemoplossing nie moontlik nie. Verbeelding is ook uiters noodsaaklik vir sosio-emosionele vaardighede soos empatie. Daar moet dus geleentheid beplan word vir verbeeldingspel. Aktiwiteite soos om stories te dramatiseer, musiek- en beweging, en verbalisering van verbeeldingsvlugte ( gesels oor: Sê nou maar: al die krane verdwyn, al die wiele van die motors is vierkantig, mossies is so groot soos volstruise, ens.).

Apparaat vir assessering

Al die aktiwiteite wat hierbo genoem is kan gebruik word vir assessering. Daar is egter apparaat wat by uitstek vir assessering gebruik kan word. ‘n Voorbeeld van hierdie soort apparaat is “What’s in a square” wat ongeveer 25 jaar gelede deur die Universiteit van Tel Aviv ontwikkel is. Hierdie apparaat moet deur die onderwyseres saam met ‘n groep kleuters gespeel word. Dit bied geleentheid vir aspekte soos vormherkenning, verskille, voorgrond/agtergrond-persepsie en die waarneming van meer as een veranderlike.

Afsluiting

Daar is geen geheime stuk apparaat wat sal sorg dat kleuters emosioneel en sosiaal goed aangepas sal wees nie. Perseptuele ontwikkeling gaan ook slegs optimaal ontwikkel as die program in die kleuterskool gebalanseerd is. Die regte dinge waaruit ‘n kwaliteit voorskoolse program bestaan, naamlik goeie verhoudings, minder as 25 kleuters in ‘n groep en ‘n opgeleide onderwyseres wat in staat is om goeie positiewe dissipline te handhaaf, is die dinge wat sorg dat al die aspekte van kleuters se ontwikkeling in harmonie met mekaar is.

Back to Top